Disease Control

Gebruik die Beste op die Beste

Cropwise

Syngenta Suid-Afrika bied nou ’n gratis Cropwise Operations-intekening saam met Miravis Aeon aan om Wes-Kaapse graanboere te help om hul hoë-potensiaal lande - waar die produk vir die beste resultate aangewend moet word - te identifiseer.

Cropwise, wat sedert 2023 in Suid-Afrika beskikbaar is, is ’n omvattende digitale boerderyplatform wat ontwerp is om jou as boer met jou gewasdata te verbind om doeltreffendheid, volhoubaarheid en opbrengs te optimaliseer. Dit dien as ’n geïntegreerde “alles-in-een”-oplossing wat satellietbeelde, KI-gedrewe diagnostiek en agronomiese kundigheid kombineer om jou te help om lande te monitor, beter besluite te neem en insette te bestuur.

As boer weet jy dat nie elke land dieselfde presteer nie. Sekerheid oor watter lande die hoogste potensiaal het, kan die verskil tussen ’n goeie seisoen en ’n uitstekende seisoen beteken. Cropwise gebruik masjienleer om verskeie lae met data per land te ontleed en gee jou ’n duidelike, data-gedrewe beeld van waar jy jou fokus moet plaas, byvoorbeeld waar Miravis Aeon die doeltreffendste aangewend moet word.

Miravis Aeon is ’n breëspektrum, sistemiese swamdoder wat gebruik word vir die voorkomende beheer van blaarsiektes soos roes, poeieragtige skimmel en blaarvlekke in verskeie gewasse, insluitend koring, gars en hawer.

Die Cropwise-model kombineer satelliet Genormaliseerde Variasie Plantegroei-Indeks (NDVI) beelde, weerdata, grondvoglesings en historiese gewasrotasie om ’n opbrengsvoorspelling vir elke land te genereer. Deur gewasrotasiegeskiedenis in te voer, toets die model sy voorspellings terug in tyd deur dit met werklike seisoene te vergelyk om die akkuraatheid te bevestig voordat daar na die komende seisoen gekyk word.

Werklike opbrengsdata is nie noodsaaklik nie – die model is reeds baie akkuraat daarsonder. Indien boere wel hul historiese opbrengssyfers voorsien, word die model teen hul eie plaasdata gekalibreer, wat die voorspellings nóg meer akkuraat maak.

Die resultaat is ’n gerangskikte oorsig van lande volgens opbrengspotensiaal sodat jy presies weet waar Miravis Aeon vir die beste opbrengs aangewend moet word, en waar ’n meer konserwatiewe benadering sin maak. Dit beteken minder raaiwerk, meer vertroue en elke inset wat harder werk waar dit die meeste tel.

“Om te begin is eenvoudig. Ons help jou om jou landgrense en gewasrotasiegeskiedenis op te laai. Die platform bou dan ’n beeld van watter lande die meeste waarde inhou – en indien jy werklike opbrengsdata het, gebruik ons dit om die model nóg meer akkuraat te maak,” sê Jason Coetzee, Digitale Landboudienste-spesialis by Syngenta Suid-Afrika.

Cropwise Operations kan boere deur die hele seisoen ondersteun

“Produsente kan siektemodelle aktiveer om presies te sien waar siektedruk vandaan kom – sodat hulle dit vooruit kan bestuur eerder as om daarop te reageer. Satellietdata voorsien ook intydse grondvoglesings per land, wat boere help om te bepaal waar die beste grondvog is en wanneer die regte tyd is om te spuit. Opbrengsvoorspellings word ook deur die seisoen opgedateer, sodat elke besluit deur data ondersteun word – op die regte land, op die regte tyd.”

Gert Claassen van die plaas Windheuwel, naby Malmesbury, sê Cropwise skakel raaiwerk uit.

“Ek gebruik nou al geruime tyd Cropwise Operations en Syngenta-produkte. Die inligting wat dit verskaf stel ons in staat om meer presies in ons boerderymetodes te wees.

“Ek is dankbaar vir Syngenta se ondersteuning. Dit stel my in staat om ’n beter boer te wees.”